Verf

'n Verskeidenheid verwe

Verf is enige vloeistof, vloeibare of mastieksamestelling wat, nadat dit in 'n dun laag aangewend is op 'n substraat, dit 'n soliede filmlaag vorm. Dit word algemeen gebruik om voorwerpe te beskerm, kleur, of tekstuur aan dit te gee. Verf word in baie kleure — en in baie verskillende tipes, soos waterverf, sintetiese, ens. gemaak en verkoop. Verf word gewoonlik gestoor, verkoop en aangewend as 'n vloeistof, maar die meeste tipes word droog tot 'n soliede lagie.

Verf bevat kleurstofdeeltjies (pigmente) wat in 'n vloeibare medium op verskillende oppervlakke aangebring kan word. Die verf vorm 'n stewige film wat die oppervlak teen verwering beskerm Verf word op verskillende maniere aangebring, naamlik deur dit met ʼn kwas aan te verf, dit aan te spuit of dit elektrostaties te laat neerslaan, of deur 'n voorwerp daarin te dompel.

Verf word op materiale aangebring ter beskerming, verfraaiing of verbetering daarvan. Dit bevat die gekleurde bestanddele in die vorm van korreltjies van anorganiese stowwe (minerale pigmente). 'n Essensiële bestanddeel van verf is die bindmiddel of filmvormer, wat dikwels uit 'n kunsstof bestaan. Die film word droog deur fisiese droging (waarby byvoorbeeld 'n oplosmiddel verdamp) of deur chemiese droging (waarby die film onder die invloed van 'n chemiese reaksie set). Verf bevat gewoonlik ook ʼn verdunner. Dit dien om die verf vloeibaar te maak vir aanwending en dikwels ook as oplosmiddel.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search